Van my oupagrootjie aan vaderskant weet ek nie baie nie. Sy grafsteen is daar op die plaas waar ek grootgeword het; Barend Bartholomeus – gebore 30 September 1835 – gesterf 3 Maart 1919. Daar was altyd meer inligting oor sy pa, Jozua Petrus, die vyfde geslag van die ou stamvader, Pierre Joubert wat as Hugenoot van Frankryk na Suid-Afrika gekom het. Die Jozua was ‘n bekende perdeboer en ‘n wamaker, ‘n vrederegter en ook ‘n leier in gemeentesake. As ek nou my eie afleidings maak, dan was my oupagrootjie ‘n jong man van vyf – en -twintig toe daar onverwags in 1860 ‘n herlewing onder die mense van Montagu en plase in die distrik begin het. In die Kerkbode van Desember 1860 was daar ‘n verslag van professor Hofmeyer oor dié herlewing. Ek haal hier aan in die ou vorm van Afrikaans soos dit in 1944 in ‘n boek van dr. Andrew Murray, “Die geestelike toestand van die kerk” gepubliseer is.
“Die eerste gemeente wat ‘n kragtige herlewing ondervind het, was Montagu. Dit is opmerklik dat die gemeente in hierdie tyd herderloos was, ‘n kragtige bewys dat die opwekking ‘n Goddelike oorsprong gehad het… Die bidure is oorstroom, sodat die vertrekke al gou te klein geword het. Mans en vrouens moes afsonderlik byeenkom, en ook die kinders – seuns en dogters – is geskei. Daar was daelikse bidure en soms meer as een keer per dag. Maar dit was nie die woord van God wat elkeen moes tref nie, maar die kragtige werking van die Gees van God in so vele harte. Meningeen het vir die eerste keer besef wat dit beteken om ‘n sondaar te wees. Hulle was so diep oortuig van die verdorwenheid van hul harte, en van hul strafwaardigheid voor God, dat hulle hul in die stof verneder het, vervul met angs en kommer. Met grote erns het hulle gevra: “Wat moet ek doen om gered te word?” In hierdie toestand het baie tegelyk verkeer wat tot op hierdie stadium heeltemal onverskillig gewees het.”
Ek dink dat my oupagrootjie ook daardie tyd diep beïnvloed was, want my pa, sy naamgenoot, het vertel dat hy as klein seuntjie dikwels saam met sy oupa plase besoek het waar hy dienste gaan hou het. Oupagrootjie moes toe al in sy sewentigerjare gewees het. Die plaashuis waarin ek grootgeword het, is ook in die jaar van 1860 gebou. Op die solder was daar ‘n houtkis. Dit was netjies volgepak met dik boeke oor geestelike onderwerpe – alles in Nederlands geskryf. As ‘n klein dogtertjie het ek soms die boeke uitgehaal en daardeur geblaai en na die foto’s gekyk, maar tot my spyt kan ek niks verder onthou nie. My pa het die boeke aan ‘n sekere dominee Hopkins gegee vir die kerk se argief in Kaapstad. Ek sou vandag soveel vrae vir my pa en ooms en tannies wou vra – hulle wat op die plaas groot geword en oupagrootjie nog geken het, maar nie een van hulle is meer daar nie.
Van my oupagrootjie word vertel dat hy eendag daar in die kloof waar die fontein ontspring, opgemerk het dat daar hoog bokant teen die kranse bye rond gons. Onder ‘n groot oorhangkrans was daar duidelik ‘n bynes. Daardie heuning is seker gemaak uit al die blomme van die veld, van die ghwarrie bome en die noem-noem bosse se blomme. Oupagrootjie se lus om die heuning te proe, het hom aangespoor om die hoogste leer op die plaas te gaan haal. Met twee vrywilligers is hy terug. Hulle het teen die kranse opgeklim tot waar die leer staangemaak kon word, maar die leer het nie heeltemal ver genoeg gestrek nie. Tog het oupagrootjie gedink dat hulle moes probeer. Met ‘n emmer in die hand het een van die mans begin klim. Alles wat nodig was om die heuning uit te haal was byderhand binne in die emmer – ‘n mes om die heuningkoeke los te sny, vuurhoutjies en ‘n stuk lap om die bye dronk te rook sodat hulle nie verwoed kon aanval nie.
Die twee mans wat die leer geanker het, het gesels en skielik het die emmer hier langs hulle neergeplof. Hulle het verskrik opgekyk. Die man het gebewe van kop tot tone en benoud met al twee hande aan die hortjie van die leer vasgeklou. Oupagrootjie het besef dat hoogtevrees die vrywilliger oorval het.
“Los maar daarbo dan gly jy teen die leer af. Ons sal jou hier vang, “ het hy rustig gepaai.
Daar was geen antwoord nie, net die man en die leer wat bewe.
Oupagrootjie het ‘n bietjie harder gepraat:
“Jy kan maar laat los, dan gly jy af. Ons sal jou vang.”
Nadat hy die derde keer mooi gepraat het, het ‘n benoude stem van daarbo geroep:
“Ek kan nie los nie! Skiet my maar liewer dood!”
“Goed, dan maak ons so, “ het oupagrootjie geantwoord. Hy het sy geweer van sy skouer geswaai, sy rug op die leer gedraai en ‘n skoot ver weg van hulle in die kloof op afgevuur. Toe die skoot klap, het die man laat los en teen die leer afgegly. Hulle het sy val gekeer en hom veilig op sy voete laat staan – tot sy groot verligting het hy nog geleef! Die heuning uithalers het dié dag maar die aftog geblaas en met ‘n leë emmer weer huis toe gegaan.
Toe ek nou onlangs weer op Montagu by my broers gekuier het, was ek verbaas toe my jonger broer sê dat hy die bynes daar in die kloof geken het. Hy het vertel dat van die plaaswerkers gereeld heuning daar gaan uithaal het. Hulle het dinge so ‘n bietjie gemoderniseer! Met groot klippe het hulle ‘n stewige platvorm gebou waarop die leer kon staan – hoog genoeg dat die leer tot langs die oorhangkrans kon kom. Die man wat die leer bestyg het, was toegerus met ‘n lang stewige riet. Aan die punt van die riet was ‘n mes styf vasgedraai. Die klimmer het dan versigtig geklim tot aan die bopunt van die leer en daar so gedraai dat hy met sy rug teen die rotswand gestaan het. Dan het hy oorgeleun na die bynes en met die mes op die lang steel het hy teen die dak van die hol krans hangende heuningkoeke begin lossny. Een vir een het die heuningkoeke dan na benede gestort. Vier helpers was reg vir die vallende soetigheid! Hulle het met ‘n oopgetrekte en styfgespande kombers reg onder die nes stelling ingeneem. Die oomblik wanneer die swaar belaaide heuningkoek op die kombers beland het, is dit opgeraap en in die emmer gesit. Alles moes vinnig verloop, want die vier wat die kombers vasgehou het, het deurgeloop onder die bye wat saam met die koeke geval het. Die heuning oes is dan met groot genoegdoening huis toe geneem waar dit verdeel is dat elke helper sy deel kon kry. Die plaasmense het onder mekaar begin praat van die kombersnes wanneer hulle na die bynes in fonteintjie kloof verwys het.
In September 1969 toe Ceres so erg getref was deur ‘n aardbewing, het ‘n gedeelte van die krans ingeval deur die aardtrillings wat ook na Montagu toe uitgekring het. So het die kombersnes wat reeds van oupagrootjie se tyd af vir dekades lank heuning verskaf het, aan sy einde gekom. My broer se vertelling het ‘n brug gespan tussen oupagrootjie se dae en ons grootword dae op die plaas. Ek het sommer gewonder of my oupagrootjie die teksverse in die Psalms wat oor heuning praat, geken het. Hy met sy liefde vir heuning sou mos geweet het van die beloofde land, Kanaän wat die Here vir sy volk beloof het – die land wat sou oorloop van melk en heuning. En van die belofte van God:
“…en met heuning uit die rots sou Ek jou versadig.”
Die verslag van professor Hofmeyer vertel nog meer van die herlewing op Montagu:
‘n Sekere broer H. van die gemeente vertel dat hy, toe die opwekking sy hoogtepunt bereik het, vir dae byna geen rus gehad het vanweë die drukke besoek van mense by wie die Gees van God kragtige werke verrig het. Oud en jonk, blank en gekleurd is deur hierdie wonderbare opwekking aangeraak. Daar was bykans geen huis in die dorp waar nie een of meer in die hart gegryp is nie…Daar is talryke siele wat kan getuig van groot dinge wat in hulle lewe gebeur het: dinge wat vir hulle vroeër vreemd en onbekend was. Hierdie seëninge het ook tot die buiteplekke deurgedring.”
Miskien was my oupagrootjie ook “in die hart gegryp” deur die kragtige werking van die Heilige Gees daardie dae. Ek het hom nooit geken nie, maar die vertelling van hom en sy liefde vir heuning, bring die vraag in my hart: Was die Woord van God ook vir hom soeter as heuning en heuningstroop?
Ek wens ek het geweet.