HAAR GEBEDE LEEF NOG VOORT

Daar leef tussen ons kinders ook die mooiste herinneringe van my ma en haar gebede. Net van die waarvan sy ons self vertel het, want my ma was baie privaat oor haar en haar geloof. Tog het ek dikwels in die agtien jaar wat sy alleen in haar plaashuisie gewoon het, gaan kuier en dan by haar in die kamer geslaap. Saans het ons gewoonlik eers saam gelees en gebid voordat sy die lig afgeskakel het. Dit was vir my van die kosbaarste ondervindinge om te hoor hoedat my ma met die Here praat oor haar kinders en kleinkinders, oor plaaswerksaamhede en die plaaswerkers.

Soms het sy dan vir my iets uit haar belewenisse op die plaas vertel. Soos die dag toe daar ‘n veldbrand was op die bergplaas. My pa en brandslaners was saam met ‘n buurman op sy  vragmotor weg na die brand.  Behalwe die groot skade wat die brande aangerig het aan die veld, was daar die gevaar vir die skape, die beeste en muile in die groot bergkampe.

My ma was besig in werkkamer later die dag toe ‘n diep benoudheid vir die veiligheid van my pa en die brandslaners haar vasgegryp het. Deur die venster kon sy die berge sien. Dik, donker brandwolke het opgeborrel waar sy gedink het dat die brand al onder beheer was. Net daar het sy op haar knieë neergeval en die Here aangeroep om tog haar man en die ander by hom se lewens te spaar. Sy het gebid totdat die angs en benoudheid uit haar hart weggevloei het. Met die vaste geloof dat die Here haar gebed gehoor het, het sy weer met haar werk voortgegaan.

Dit was al aand toe die vragmotor my pa kom aflaai het. Hy was doodmoeg en van kop tot tone swart besmeer met die roet. Nadat hy gewas het en in hulle kamer op die bed gelê het, het my pa vertel:
“Vrou, vandag het ek iets eienaardigs gebeur. Die brand het sterk gewoed en ons altyd verder en verder weggedruk. Toe dit in die kol tolbosse ingekom het, het die brandende tolle van die bos af losgeskiet en soos klein brandende fakkeltjies die vuur net meer versprei. Ons het geveg met alles wat in ons was. Toe ek ‘n slag omkyk om te sien waar ons was, het ek myself yskoud geskrik.

Die vlamme het ons teruggedryf tot teen regop kranse agter ons. Daar was geen manier waarop ons sou kon ontvlug nie. Die vlamme was soos ‘n hoë muur wat op ons afgestorm het , maar skielik was dit asof ‘n hand gekom het en die vlamme van ons af weggestoot het.”

My ma het vertel dat my pa sy hand opgelig het om te wys hoe die vlamme gekeer was.  Hy was so diep verwonderd want hy het opgemerk dat daar geen wind was wat dit kon doen nie. Hulle lewens was weer buite gevaar.

Toe my ma uitvra wanneer dit gebeur het, was dit die tyd van die dag toe sy op haar knieë neergeval het en gebid het totdat die angs uit haar hart verdwyn het. My ma het met dankbaarheid besef dat dit die Here was wat haar die dringendheid gegee het om te bid en dat Hy daardie smeekgebed beantwoord het.

Eendag, juis toe ek weer by my ma gekuier het, het my jongste broer, Ben, verbygekom vir ‘n koppie koffie. Terwyl ek koffie maak, hoor ek my ma vra vir hom:
“Wat het dan die afgelope naweek met jou gebeur dat ek so ernstig vir jou moes bid?”
Hy het lank stil gebly.
“Ma, ek het te vinnig op die grondpad gery.”
“Waar?”
“Ek het ‘n uitnodiging gekry na ‘n plek wat ek nie geken het nie en ek was laat. Daar was ‘n baie skerp draai in die pad wat ek nie verwag het nie en my spoed was te hoog. Die een voor en agterwiel het oor die wal teen die kant van die pad gespring en die motor het so byna-byna teen die afgrond afgerol. Ek weet nie hoe nie, maar ek het tog op die pad gebly.”
Hy het weer lank stilgebly en eers koffie gedrink. Toe voeg hy by:
“Ek moet sê my bene het gebewe van die skok. Dit was so amper.”

Die einste broer van my het kort na sy matriek eksamen op ‘n buurdorp by ‘n wynkelder gedurende oestyd gehelp. En hier wil ek my ma se eie woorde aanhaal soos sy dit vir my neergeskryf het toe sy al een-en-tagtig jaar oud was.

“Eendag staan ek en brood of beskuit knie. Met my hande so in die deeg, word ek so bevrees en weet onmiddellik dat Ben in gevaar is. Net so met my deeghande hardloop ek uit en bid somaar so staande met my kop teen die stoeppilaar totdat ek rustig word. En die naweek hoor ek dat hulle mos in oop tenks gepomp het. Ben het die dik pyp getrek, sy voete het gegly en hy val toe binne-in die mostenk. Net voordat die mos oor sy kop toeslaan, kry hy ‘n kraan beet en lig homself uit die tenk. As die mos oor sy kop gekom het, sou hy gesterf het.”

Ja, dit was algemene kennis dat ‘n mens nie die gas van so ‘n moskuip oorleef nie en Ben het sekerlik daardie dag besef dat dit nie sy eie inspanning was wat sy lewe gered het nie.

Wat van die tyd toe ek net vyf jaar oud was en witseerkeel gekry het?
Ons dorp het nie ‘n afsonderingsafdeling gehad nie, dus was ons hele plaas onder kwarantyn geplaas. My ouer broer en susters moes terugkom van die koshuis. Hulle was ook onder kwarentyn op die plaas en kon nie skool toe gaan nie. Hulle was heel gelukkig om ‘n vakansie te hê, maar vir my arme ouers was dit ‘n tyd waar hulle sekerlik ‘n paar grys hare bygekry het. Elke dag het ons dokter uitgery van die dorp om te kom kyk hoe dit met my gegaan het en om my inspuitings te gee. As ek net die dreuning van die motor gehoor het, het ek al begin huil. Dan het my ma begin sing en so liefdevol oor my kop en gesig streel. Haar teenwoordigheid het altyd rus gebring.

Ek moes weer leer loop nadat die siekte verdwyn het. Mamma het vir my ‘n paar spierwit skoene gekoop en dit  ver weg van die bed gesit. Reg teen die ou groot kas. Sy het my aangemoedig om af te gly van die hoë bed en die skoene te kom haal. Ek het. Eers teen die bedkatel vasgeklou en toe teen die kas met my hande gedruk. So het ek die skoene bereik en toe ek dit wou optel, het ek omgekantel, maar haar sterk hande was daar.

My oudste broer was nog ‘n klein seuntjie toe hy agter ‘n voëltjie by die oop staldeur ingegaan het. Die voëltjie het seker leer vlieg en verder en verder gehop van die klein mannetjie wat hom wou vang. Hy het net die voëltjie gesien en onder die perd, wat by die krip gestaan en vreet het, ingehardloop. Die perd het hom ‘n geweldige skop teen sy kop gegee.
Hoe my ma op die toneel verskyn het, weet ek nie meer nie, maar sy het die bewustelose seuntjie onder haar sorg geneem. Dat hy geen nagevolge oorgehou het nie, was sekerlik nie net omdat daar ‘n goeie dokter dadelik uitgery het plaas toe nie. My ma het geweet hoe om die Here aan te roep in tye van nood.

‘n Paar dae na my ouma se begrafnis het ek een oggend in die kombuis gekom en my ma daar aangetref waar sy bitterlik gestaan en huil het.
Ek het my arms om haar geslaan en gevra: “Mamma, wat dan nou?”
“Kind, ek besef skielik dat die een wat vir my al die jare van my lewe gebid het, nie meer daar is nie.” My ma was al ver in die sestig.

Na my ma se dood het ek ook so ‘n oomblik beleef. My ma is ‘n paar weke na haar sewe-en-neëntigste verjaardag oorlede en ek was toe ook in my laat sestigs. Ek het ‘n ouma en ‘n ma gehad wat vir my gebid het. Wat sou van my geword het sonder daardie gebede van liefde wat my lewe omring het!

Ek was vertroos met dieselfde woorde waarmee ek my ma daardie oggend getroos het. Die Bybel leer ons dat opregte gebede in ‘n goue bak opgevang word en bewaar word by die troon van die Vader. Hulle gebede leef nog voort daar waar my ouma en my ma saam sing voor die troon van die Hemelse Vader vir wie hulle gedien het toe hulle nog hier op aarde geleef het.

Wat ‘n kosbare bemoediging en ‘n groot uitdaging ook vir my wat nog leef met kinders en kleinkinders om voor te bid!

afAfrikaans